Seisoene in Kleinveeproduksie
Outeur: Giepie Calldo, Bestuurder: Tegnies, RFID Experts Africa Vrywilliger mede-werker van PERITUM Agri Instituut
Diere het seisoene van groei. Die sukses van kleinveeboerdery berus daarop dat kritiese bestuurspraktyke toegepas word om effektief in die dier se voedings- en gesondheidsbehoefte vir elke groeifase te voorsien.
Effektiewe voeding van die jong ooilam het ‘n direkte invloed op die latere volwasse ooi se reproduksiepotensiaal omdat eierselvorming in hierdie tyd plaasvind. Eierselvorming van speen tot eerste paring bepaal die reproduksietempo van die ooi. ‘n Direkte verband bestaan tussen die daaglikse massatoename van die ooilam tot haar paargewig en die effektiwiteit van eierselvorming.
Paargewig van die jongooi
Soos reeds genoem bepaal die paargewig van die jongooi haar leeftyd-reproduksietempo. Konstante gewigtoename is dus belangrik. Die ideale paargewig vir goeie reproduksie en produksie moet gemiddeld tussen 48 en 51kg wees. Wanneer jongooie op 12 maande gepaar word, moet hul gewig 80% van hul volwasse gewig wees. Indien hulle op 18 maande gepaar word, moet hul gewig 94% van hul volwasse gewig wees.
Die regte paargewig verseker dat produksiedoelwitte behaal word, naamlik 135% speen met 4,5kg wol per teelooi (as 1,35 lammers se wolproduksie teruggewerk word na die ooi, is dit 7,6kg per kop).
‘n Ooi wat 60kg weeg se voedingsbehoeftes om 135% te speen, is sowat 870kg kos (dit sluit die lam se kos tot speen in).
Voeding van die ooilam tot paartyd is ‘n groot uitgawe wat deur die wolinkomste gedra moet word. Indien op 18maande gepaar word beloop 751 dae van die ooilam se geboortedag totdat haar lam verkoop kan word – dus is die hoeveelheid, gehalte en prys wat die wol behaal belangrik.
Die wyse produsent besef dat, hoewel die uitgroei van die vroulike dier tot die ideale gewig voor paartyd ‘n groot uitgawe is, haar effektiewe eierselvorming daarna optimale reproduksie – en winste vir die boerdery sal beteken.
Versorging van die ooi ses weke voor lam
Die lammeroes is die boer se opbrengs op sy belegging vir die afgelope seisoen. Dit is vir elke produsent van groot belang dat die ooilam met die hulp van byvoeding so goed as moontlik moet presteer. Die tekorte in die natuurlike hulpbronne moet dus deur byvoeding reggestel kan word om in die dier se behoeftes te voorsien en die genetiese potensiaal ten opsigte van reproduksie en produksie te benut. Wat egter nie aldag besef word nie, is dat hierdie byvoeding reeds ses weke voor lamtyd begin : die tydperk waarin 72% van die fetusgroei, uierweefselontwikkeling en primêre wolfollikelontwikkeling plaasvind tot en met geboorte. Om dus die genetiese potensiaal ten opsigte van groei en wolproduksie te benut, moet daar in hierdie belangrike tyd, in die dragtige ooi se groter voedingsbehoefte voorsien word. Voldoende fetusgroei bepaal die geboortegewig en latere liggaamsgrootte, terwyl uierweefselontwikkeling die potensiaal skep vir hoër bies- en melkproduksie, wat die geboortegewig sowel as die sekondere wolfollikelontwikkeling aanvul.
In dieselfde tyd is inenting teen bloednier, pasteurella, bloutong, klem-in-die-kaak en ensootiese aborsie belangrik. Spoorelementaanvullings en ontwurming (mismonsters) word ook nou gedoen.
Versorging van die ooi na lam
Gesonde bestuurspraktyke behels dat die ooi goed versorg word in die ses weke voor paartyd; baarmoeder herstel gegun word in die drie weke na lamdag (aangesien dit die opvolgende seisoen se besetting en lampersentasie bepaal); tyd gegun word om die lam te speen (indien toestande verswak, met kruipvoeding so vroeg as op 60 dae al gespeen word) en dan ‘n rustyd van meer as 4 maande gegun word voordat weer gepaar word. Herstel is dan goed, besetting is hoog en wolproduksie, wat tot 800g/kop meer kan wees uitstekend.